Wenke om ʼn goeie opsomming te skryf

By | Maart 24, 2017

Totaal: 10
Tyd: 1 periode

Opdrag: Lees die onderstaande storie noukeurig deur en som dit in vyf sinne op.

Wenke om ʼn goeie opsomming te skryf

·         Bestudeer die opskrif deeglik.

·         Lees die teks deeglik.

·         Moenie die leesstuk se opskrif neerskryf nie.

·         Stel vas wat die hoofgedagte van elke paragraaf is; dit staan gewoonlik in die eerste sin.

·         Gebruik sover moontlik jou eie woorde; probeer om nie die oorspronklike teks se woorde te gebruik nie.

·         Maak seker dat jy die opdrag korrek lees en die vraag verstaan. Jy mag gevra word om ʼn paragraaf of ʼn aantal sinne te skryf. Jou finale opsomming moet een paragraaf of die vereiste aantal sinne in puntvorm wees.

·         Skryf vloeiende sinne.

·         Werk aan logiese verbindings tussen sinne.

·         Sorg dat die styl gepas is vir die doel waarvoor die opsomming sinne geskryf word.

 

 

Luiperd en Jakkals word uitoorlê

Luiperd en Jakkals was vriende en het in ʼn woud gewoon. Luiperd was op pad huis toe na ʼn jagtog. Skielik het hy ʼn eienaardige dier met aaklige, growwe, groot horings op sy kop teëgekom. Hy was vreesbevange omdat hy nog nooit so ʼn dier gesien het nie. Versigtig grom hy: “Dagsê, Vreemdeling. Wat is jou naam?” Terwyl hy sy bors slaan om sy krag en waagmoed te toon, sê die dier: “Ek is Ram. Wie is jy, gespikkelde een?”

“Ek is Luiperd,” antwoord hy saggies en hardloop so vinnig soos die wind daar weg.

Uitasem gehardloop, vertel Luiperd vir Jakkals: “Ek het die eienaardigste dier gesien wat ek glad nie kon herken nie. Die kreatuur het gesê hy is Ram en hy het op sy bors geslaan.” Jakkals lag. “Jy is darem dom om sulke soet vleis agter te laat. Môre gaan soek ons Ram en vier saam fees.”

Die volgende dag toe die son wakker word, gaan soek hulle vir Ram. Ram sien hulle aankom en waarsku sy vrou: “Vandag sterf ons, Vrou! Luiperd en Jakkals is daarop uit om ons te vang.”

“Ja, maar hulle kan ons nie uitoorlê nie,” sê sy vrou. “Vat gou ons seun saam met jou. Wanneer hulle naderkom, knyp die kind totdat hy huil, sodat dit klink asof hy honger is.”

Toe die twee nader kom, knyp Ram sy kind. Luiperd se oë rek groot van vrees. Uit sy ervaring met sy eie kinders herken hy ʼn kind wat skreeuend honger is. Luiperd probeer weghardloop, maar Jakkals hou hom styf vas. “Kom, Luiperd, kom ons gaan vier fees,” sê Jakkals. Toe Ram hierdie woorde hoor, gee hy sy kind weer ʼn harde knyp. Intussen skreeu sy vrou: “Jakkals, jy het goed gedoen om Luiperd te bring sodat ons hom kan eet. Soos jy kan hoor, is my kind baie honger!”

Hierdie keer kan Jakkals nie vir Luiperd keer nie. Luiperd hardloop reguit woud toe en dwing Jakkals agterna deur hom te sleep. Hulle kom stokflou en uitasem na die gesleep by die huis aan. Van daardie dag af het dié twee nooit weer saam gaan jag nie en Ram en sy gesin het in vrede geleef.

(Aangepas uit African Legends en Folktales deur G. Lee)

 

Afrikaans Huistaal
MEMORANDUM: Hoe om ʼn opsomming te maak
Klastoets: Lees en skryf
Graad: 6
Totaal: 10
Tyd: 30 minute

Wenke vir die onderwyser

  • Maak dwarsdeur die jaar ʼn verskeidenheid tekste bymekaar en liasseer dit.
  • Behou die kern van die teks wanneer dit vereenvoudig of verkort word.
  • Stel die taak saam om beantwoord te word en beantwoord al die vrae self.
  • Beantwoord die vrae na ʼn tyd ʼn tweede keer, vergelyk hierdie antwoorde met die voriges en verbeter dit waarmee u nie tevrede is nie.
  • Vra ʼn kollega om die vrae te beantwoord, vergelyk dit met u antwoorde en verbeter dit indien nodig. (Interpretasie mag verskil.)
  • Onthou die doel van die opsomming is om die leerders se vermoë om belangrike detail uit te haal en hulle skryfvaardigheid te toets.
  • Gee erkenning aan die gebruikte teks.
  • Puntetoekenning: Soos deur u bepaal.

Moontlike memorandum

  1. Luiperd was op pad huis toe en was doodbang toe hy ʼn snaakse dier met groot, growwe horings teenkom.
  2. Nadat Luiperd Jakkals oor sy ontmoeting ingelig het, was Jakkals vies vir hom omdat hy sulke goeie prooi kon los.
  3. Die volgende dag het die twee na Ram gaan soek, maar Ram se vrou was gereed met ʼn blink plan om hulle finaal af te skrik.
  4. Ram het sy kind hard geknyp en die skreeuende kind het Luiperd laat besluit om liewers voet in die wind te slaan.
  5. Luiperd het reguit bos toe gehardloop en Jakkals saamgesleep en van daardie dag af het Ram en sy gesin in vrede geleef en Luiperd en Jakkals het nooit weer saam gejag nie.

Afrikaans Huistaal
Graad 11
Hersien: Taalvaardigheid
Bestudeer die strokie Die Paddaprins hier onder en beantwoord die vrae.
Afrikaans Huistaal
MEMORANDUM: Die Paddaprins
Graad 11
Hersien: Taalvaardigheid

BLOK 1

  1. Watter nut het die kommas in reël 1?

Dit dui die begin en einde van die parentese/invoeging aan.

 

  1. Haar in reël 2 is ʼn voornaamwoord. Maak ʼn sin waarin jy haar as ʼn selfstandige naamwoord gebruik.

Die Bybel sê elke HAAR op ons hoof is getel.

  1. Hoe verander klanktoevoeging die betekenis van die woord nooit?

Die n- is die klank wat toegevoeg/bygevoeg is; dit gee aan die woord ʼn negatiewe betekenis.

  1. Wat is die funksie van die afkappingsteken in reël 3?

Die twee woorde sy en het word saam uitgespreek; die afkappingsteken dui aan dat die letters he– van het uitgelaat is.

  1. Soek ʼn woord in die eerste blok wat min of meer dieselfde beteken as gemor.

             geneul

  1. Watter klankverskynsel kom voor wanneer geneul uitgespreek word as geneel?

Ontronding

 

  1. Skryf uit die volgende sin die onderwerp, voorwerp en gesegde neer: Sy wou haar jou-jou speel.

OW = sy

             VW = haar jou-jou
             G = wou speel

  1. Wat is die funksie van die agtervoegsel in middaguurtjie?

tjie dui verkleining aan.

  1. Watter intensiewe vorm kan jy in die plek van “sy skrik haar litte lam” gebruik?

Boeglam

  1. Reël 5 bestaan uit bywoordelike bepalings/frases. Skryf elke bepaling/frase neer en sê watter soort elkeen is

Een middaguurtjie – bywoordelike bepaling van tyd

             Langs die dam – bywoordelike bepaling van plek

  1. Verduidelik kortliks die verskil tussen litte en lede.

Litte verwys na die verbinding tussen aanmekaargeskakelde bene, bv. die knakplekke in vingers.

             Lede verwys na die meervoud van ʼn lid wat deel is van ʼn groep.

  1. Maak twee sinne met die woord lam om te toon dat die woord as ʼn werkwoord of as ʼn selfstandige naamwoord gebruik kan word.

Die skape lam.

             Die lam is nog maar klein.

BLOK 2

  1. Watter klankverskynsel gebruik die skrywer van die strokie met die woord kners (reël 9)?

Klanknabootsing

  1. Skryf reël 9 oor en vervang die kommapunt met ʼn voegwoord. Onderstreep die woord wat jy invul.

Die trane rol EN sy kners haar tande.

  1. Watter klankverskynsel kom voor wanneer tande as tanne uitgespreek word?

Assimilasie

  1. Verdeel die woord platanna in lettergrepe en in klankgrepe. Verduidelik dan die verskil.

LG = plat – an – na

             KG = plat – a – na

LG word verdeel presies soos die woord gespel word; klankgrepe word verdeel volgens die klanke wat ons hoor – ons SKRYF anna maar ons HOOR a / na.

 

  1. Verklaar die gebruik van die dubbelpunt aan die einde van reël 11.

Dit toon dat ʼn verduideliking volg – hoekom haar oë rek.

  1. Die uitroepteken toon gewoonlik dat daar emosie in ʼn sin ter sprake is. Watter emosie dink jy is in reël 12 ter sprake? Bewys jou antwoord deur na hierdie reël en die voorafgaande reëls te verwys.

Skok/verbasing – haar oë rek.

 

  1. Skryf die verkleiningsvorm van sprokie

sprokietjie

  1. Skryf ʼn sinoniem neer vir soen soos dit in reël 15 gebruik word.

Kus

 

  1. Skryf die sin “Gee my ʼn soen.” oor sodat dit ʼn hoflike versoeksin is.

             Gee my asseblief ʼn soen./Soen my asseblief.

BLOK 3

  1. Watter klankverskynsel kom voor wanneer guns uitgespreek word?

Nasalering

  1. Skryf die padda se woorde in reël 18 oor in die indirekte rede.

Die padda sê DAT HY geen parra is nie, maar ʼn prins.

             OF Die padda sê DAT HY geen parra is nie, maar DAT HY ʼn prins is.

  1. Skryf die sin “Toe sy hom soen, het hy ontplof.” (reël 19) oor in die teenwoordige tyd.

Toe sy hom soen, ontplof hy.

  1. Skryf uit die sin “Toe sy hom soen, het hy ontplof.” (reël 19) die hoofsin en die bysin neer.

Toe sy hom soen – bysin

(het) hy ontplof – hoofsin

BLOK 4

  1. Reël 21-22 is ʼn saamgestelde sin. Skryf die twee hoofsinne waaruit die saamgestelde sin bestaan en die voegwoord wat hulle verbind neer en sê watter soort voegwoord dit is.

Geluk was haar nie beskore nie.

             … daardie prins was die ene ore.

             Want – neweskikkende voegwoord

  1. Skryf die volgende sin oor in die lydende vorm: Sy sug en smyt die prins terug in die dam.

Daar word gesug en die prins word (deur haar) in die dam teruggesmyt.

  1. Skryf Charles en Diana se name in die meervoud neer en verduidelik dan jou spelling.

Charlese

             Dianas

Geeneen kry ʼn afkappingsteken nie. Die meervoud van eiename kry ʼn afkappingsteken:

  • as dit eindig op ʼn -s wat NIE uitgespreek word nie (die -s in Charles word uitgespreek); en
  • as dit eindig op ʼn beklemtoonde -a (Diana eindig nie op ʼn beklemtoonde -a nie).