Chris Chameleon

By | Oktober 11, 2017

  1. Wat onthou jy van jou Afrikaanse taalonderwysers op skool?

Ek glo onderwysers in die algemeen het ’n baie groot invloed op hulle leerlinge se liefde vir die vak. Entoesiasme is aansteeklik en kan geweldig inspirerend wees. Net so is ’n flegmatiese, saai benadering uiters skadelik vir die leerling se belangstelling en gevolglik hulle prestasie. Ek het vir ’n tyd ’n baie saai, passielose Afrikaanse onderwyseres gehad, en vir ’n vak wat ek nog altyd ’n besondere liefde voor gehad het was dit redelik skadelik. Maar dan was daar juffrou Westerberg, wat geweldig passievol oor die taal en vak was en met entoesiasme elke klas aangebied het. Vir haar het ek lang antwoorde geskryf, begeesterde opstelle geskryf en konsekwent a’s verwerf. Ek (en as dit nie te ’n onbeskeie aanmatiging is nie, my gehore) baat nou nog by daardie saadjie wat nou reeds 30 jaar gelede tot die boom van my liefde vir Afrikaans uitgegroei het.

  1. Dink jy dit is belangrik om jou kinders in Afrikaanse skole te plaas? Motiveer.

Uiters belangrik. Op 47 is ek nog kindloos, maar begin al verlangend na die vooruitsig kyk! Deel van hierdie proses is om te fantaseer oor die hipotetiese pienkvoet en opvoedingstrategieë. Afrikaanse onderrig staan lewensgroot in hierdie voorneme. ’n Taal is nie net ’n konvensie vir kommunikasie nie. ’n Taal dra met hom ook ’n hele rits ander fenomene wat op die oog af onafhanklik bestaan, maar by nadere ondersoek konsekwent sekere karaktertrekke openbaar, omarm en vervat. Kyk maar na ons Afrikaanse skole, waar die deugde van dissipline, respek vir onderwysers, die strewe na uitnemendheid, hoflikheid en gemeenskaplikheid in die algemeen sterk verteenwoordig word, dikwels in skrille kontras met ander skole. Ek impliseer nie dat dit net in Afrikaanse skole so gaan nie, maar sal dit wel prontuit stel dat dit meer algemeen voorkom in Afrikaanse skole. Die mentaliteit van Afrikaans, hoewel, nes die van ander tale, nie volmaak nie, is iets waaraan ek wel my kind sal wil blootstel. Afrikaans is gebore uit ’n mengelmoes van ten minste 8 tale vanuit drie kontinente. Deur jou kinders in Afrikaans te skool gee jy hulle toegang tot hierdie unieke, diverse en breë agtergrond van die mensdom wat in die taal ingebou is. ’n Ander, baie praktiese motivering is dat wanneer jou kinders in Afrikaans geskool word, sal hulle heel waarskynlik Engels leer (en, soms, soos vir my die geval was, ook Duits en Nederlands). Kinders wat in Engels geskool word, het vanweë Engels se status as wêreldtaal, min motivering om enige ander taal te leer en is dikwels mono-linguiste – ’n geweldige groot en onnodige beperking.

  1. Hoekom sing jy in Afrikaanse en in Engels?

Ek sing in beide Afrikaans en Engels. Die rede daarvoor is dat ek myself anders ervaar, anders uitspreek en soms selfs anders dink in verskillende tale. Dit sluit aan by my antwoord van vraag 2, elke taal wakker ’n ander deel van ’n mens aan. Hoe gemakliker jy in die taal is, hoe beter kan jy op die unieke ‘frekwensie’ van die taal inskakel. Jy uiter jou in ’n bepaalde taal met inbegrip van die ganse geskiedenis, etimologie en stigma van daardie taal. Dit lei noodwendig tot verskillende uitingsvorme (ek glo ’n mens kan die verskille goed hoor tussen my Engelstalige en Afrikaanstalige werk). My geskrewe en filosofiese bemeestering van Nederlands en Duits (waarvan en beide redelik goed kan verstaan en praat) skiet net-net tekort om my op dieselfde vlak uit te druk as in my Afrikaanse en Engelse werk, daarom dat ek dit nog nie gedoen het nie.

  1. Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord?

Die woord ‘baie’. Ons hoof stamtaal, Nederlands, ken glad nie die woord nie (hulle s’n is, nes die Engelse ‘very much’, ’n meer uitgebreide ‘heel veel’). Dit kom uit die Indonesiese ‘ban yak’. Dis ’n woord wat gereeld gebruik word en ons is nie bewus van hoe interessant die woord se oorsprong is en in welke mate dit afwyk van baie van die norme van ons Westerse stamtale nie. Dit sê lekker en beskryf oorvloed, waarom sal ek nou nie van so ’n taal hou nie!